ONS STORIE
Die oorspronklike Wildsfees is begin in die 1990’s as ‘n jaarlikse fondsinsameling vir die skool. Die doel was om die beheerliggaam poste by die skool te finansier aangesien die staat subsidie baie kleiner geword het en daar nie meer genoeg fondse was om onderwysers te betaal nie.
Die fees is begin met die fokus hoofsaaklik of wild/jagpakket lootjies wat verkoop is om dus deur die plaaslike wildsbedryf buite geld in te samel.
Victoria-Wes se Wildsfees was in die jare 90’s ‘n reusetreffer en het mense van oraloor na ons Karoodorpie gelok. Die laaste fees het in 1999 sy asem uitgeblaas. Daar is nou egter ‘n nuwe geslag entoesiastiese inwoners wat die fees in 2015 laat herleef het om ons plattelandse skatte te deel en ons dorp ‘n broodnodige finansiële inspuiting te gee.
Alle fondse wat genereer word met ons Wildsfees word via die KVB Gemeenskapsfonds Trust gekanaliseer na ons plaaslike ouetehuis, Huis Freda Kempen, asook Elior Akademie, ons plaaslike privaat laerskool. Fondse word ook deurentyd bewillig aan ander behoeftige, verdienstelike organisasies wat op verskeie maniere die gemeenskap van Victoria-Wes dien.
Sedert 2015, het ons reeds 8 geslaagde en hoogs opwindende feeste aangebied. Gedurende die laaste paar jaar, het ons distrik ‘n geweldige droogte beleef en moes ons ook Covid-19 inperkings deurmaak. Die fonds kon steeds, te midde van moeilike tye, hulp bied waar dit nodig was.
Victoria-Wes het in 2022 die stof van inperkings afgestof en ‘n finominale Wildsfees aangebied. Oud en jonk kon weer soos altyd kuier en dans soos net Karoo-mense kan!
Merk solank die datum op jou kalender: 26 en 27 Junie 2026. Moet dit nie misloop nie!
ELIOR AKADEMIE
Elior beteken “God is my Lig”
Elior Akademie verskaf, in samewerking met die ouerhuis, ‘n Christelike opvoeding van uitnemende gehalte in hoofsaaklik Afrikaans, maar ook in Engels soos nodig, deur die gebruikmaking van alle bekostigbare onderwys hulpbronne tot die volle ontwikkeling van die kind se potensiaal en tot voordeel van sy naaste.
Elior Akademie is in 2013 begin as ‘n sentrum vir Impak Tuis- en hulpsentrumonderrig. Die behoefte vir klein klasse waar individuele aandag, Christen waardes en ‘n atmosfeer van respek en liefde was, het alhoe groter geword.
In 2018 het die beheerliggaam van die skool aansoek gedoen by die Departement van Onderwys om te registreer as ‘n onafhanklike skool.
Op 4 Julie 2019 is Elior amptelik as onafhanklike skool by die Noord-Kaap Departement Onderwys geregistreer.
Onderrig word aangebied vanaf Graad R tot en met Graad 7 en ‘n speelgroepie vir voorskoolse kinders word 2 keer per week aangebied.
Die skool se prestasies op akademiese-, sport– en kultuurgebied is alombekend. Baie oud-leerders het waardering vir die rol wat die skool in hul opvoeding en vorming gespeel het.
Die skool beskik oor dinamiese en ervare opvoeders wat oor die kundigheid beskik om waardegedrewe onderwys aan u kind te gee. Die kind en sy/haar geluk word altyd eerste gestel
Ons spandeer baie tyd aan lees, wiskunde en klanke vanaf graad R omdat dit die kern van suksesvolle onderwys is.
Die skoolkurrikulum maak voorsiening vir elke leerder met sy besondere behoeftes op verskeie terreine. Die klem word geplaas op deelname vir genot.
Elior Akademie neem deel aan die Karoo Eisteddfod, Wiskunde uitdaging, Mini-Krieket toernooi (seuns en meisies), atletiek en tennis.
Elior Akademie doen deurentyd alles in sy vermoeë om ‘n klimaat en omgewing te skep waarin leerlinge onderrig volgens Christelike waardes en norme kan ontvang.
Die skool sal altyd poog om die bes opgeleide en toegewyde personeel en ook ander deskundiges te bekom om hierdie doelwit te bereik.
Die skool beywer hom, in samewerking met ander skole, persone, instansies, kerke en die regering in sy strewe na die verkryging van wetenskaplike toerusting, kundigheid, sosialisering en fondse tot die algehele vorming van sy leerlinge.
Die skool streef daarna om hoëvlak mannekrag te lewer, toegerus met die nodige kennis, denke, vaardighede en houdings om in die eise van die tyd en die land te voorsien.
Die skool wil ook toepaslik diensbaar wees in sy onmiddellike omgewing en streek, die breër gemeenskap en in die besonder, aan sy ondersteuners en geesgenote.
huis frieda kempen
Die ACVV Victoria-Wes is bevoorreg om na bykans vyftig jaar steeds hulle oudste en grootste projek, Huis Frieda Kempen, tehuis vir ouer persone volhoubaar te bestuur. Aan ons Hemelse Vader kom ons hoogste eer en lof toe wat oor byna vyftig jaar vrywilligers en personeel voorsien en toegerus het om by die tehuis se bestuur en bedryf betrokke te raak.
Ons glo die ACVV kom steeds haar verantwoordelikheid na teenoor die ouer persone van die gemeenskap wat van die dienste wil gebruik maak.
Die ACVV verskaf dienste aan verswakte persone ouer as sestig jaar vanuit die totale gemeenskap ongeag hulle geslag of ekonomiese status solank hulle bereid is om die eenheidskoste te betaal of indien daar ‘n geskikte borg gevind kan word. Die tehuis is geregistreer vir 28 ouer verswakte persone maar huidig is die onbenutte kamers die organisasie se groot uitdaging. Die uitgebreide fasiliteite, nl. Ons Huis en die ACVV Woonstelle is juis ontwikkel om die tehuis meerdoelig te benut en ook dienste aan hierdie teikengroepe te voorsien as inkomstegenererende projekte.
Die tehuis het tans ruimte om 10 meer kamerbewoners en twee of drie woonstelbewoners te akkomodeer.
Daar word onverpoos gewerk om die beste moontlike sorg vir die inwoners te bied en hulle deur inskakeling by aktiwiteite te reaktiveer sodat agteruitgang beperk kan word. Verwante speel n belangrike rol in inwoners se lewe dog sommige kinders maak nie genoeg kontak met hulle ouers nie.
In ‘n klein gemeenskap is dit moeilik om noemenswaardige fondse in te samel want daar is beperkte koopkrag en heelwat mededingers.
Die ACVV sal meer pogings moet aanpak maar daarvoor kan ‘n klein Gideonsbende nie alleen sorg nie en sal ons meer vrywilligers moet werf sodat daar hande gevat kan word. Die ekonomie maak dit egter moeilik vir beide die skenkers en die kopers en kan daar ook nie te gereeld fondsinsmelings gehou word nie. Gemeenskaplike fondsinsamelings soos ‘n wildsfees of duiwe “fly-in” is reeds en mag dalk in die toekoms van nog groter waarde wees.
Hierdie aspek is die belangrikste van al die komponente, want as daar nie die nodige finansiële voorsiening is nie, kan geeneen van die ander komponente suksesvol bedryf word nie.
Huis Frieda Kempen is afhanklik van hoofsaaklik vier bronne van inkomste, naamlik:
- Losiesfooie/ Verkoop van dienste
- Subsidie van die Staat
- Fondsinsamelings
- Donasies.
Die ACVV het die afgelope jare gereeld bydraes uit die Gemeenskapsfonds ontvang en ‘n eenmalige noemenswaardige erflating wat ongewoon is, is ook ontvang Die erflating van een van die ACVV se lojale ondersteuners en gewese inwoner van HfK was van onskatbare waarde die afgelope twee jaar en het gehelp om die maandelikse verpigtinge aan veral voedsel en salarisse by te bring. Sonder hierdie bemaking en ook die bydraes van die Gemeenskapstrust en die ACVV Tak sou dit bykans onmoontlik gewees het om die tehuis se bedryfsuitgawes te kon dek. Die ACVV Tak moes gereeld uit hulle reserwefonds wat oor jare opgebou is die tehuis ondersteun en geld voorskiet.
Die NG Kerk, vrywilligers in die gemeenskap en ondersteuning deur oud-VictoriaWesters het onskatbare waarde toegevoeg deur gereelde bydraes.
Samevattend is die ACVV van Victoria-Wes oortuig dat ten spyte van ‘n paar groot uitdagings daar steeds ‘n behoefte aan ‘n fasiliteit vir die versorging van verswakte ouer persone is en dat Huis Frieda Kempen wat oor vyf dekades die toets van die tyd deurstaan het onder die beskerming van ‘n organisasie wat vir meer as ‘n eeu (118 jaar) dienste lewer aan mense in nood, die reg het om voort te bestaan. Dit sal alleen moontlik wees as die gemeenskap saamstaan, die Staat die regmatige ondersteuning gee en kinders besef dat hulle ‘n vrentwoordelikheid het tov hulle ouers se versorging .
Ons glo dat ons Hemelse Vader elke inwoner sal seën met Sy genade en liefde. Ons glo dat elke personeellid, bestuurslid en vrywilliger toegerus sal word deur ‘n Hoër Hand om hierdie veeleisende taak met blymoedigheid voort te sit sodat die diens vir nog baie geslagte as ‘n veilige hawe vir ouer persone in Victoria-Wes kan voortbestaan.
