ELIOR AKADEMIE

“God is my Lig”

Elior Akademie verskaf, in samewerking met die ouerhuis, ‘n  Christelike opvoeding van uitnemende gehalte in hoofsaaklik Afrikaans, maar ook in Engels soos nodig, deur die gebruikmaking van alle bekostigbare onderwys hulpbronne tot die volle ontwikkeling van die kind se potensiaal en tot voordeel van sy naaste.

ONS GESKIEDENIS

Elior Akademie is in 2013 begin as ‘n sentrum vir Impak Tuis- en hulpsentrumonderrig.  Die behoefte vir klein klasse waar individuele aandag, Christen waardes en ‘n atmosfeer van respek en liefde was, het alhoe groter geword.

In 2018 het die beheerliggaam van die skool aansoek gedoen by die Departement van Onderwys om te registreer as ‘n onafhanklike skool.

Op 4 Julie 2019 is Elior amptelik as onafhanklike skool by die Noord-Kaap Departement Onderwys geregistreer.

WAT BIED ONS

Onderrig word aangebied vanaf Graad R tot en met Graad 7 en ‘n speelgroepie vir voorskoolse kinders word 2 keer per week aangebied.

Die skool se prestasies op akademiese-, sport– en kultuurgebied is alombekend.  Baie oud-leerders het waardering vir die rol wat die skool in hul opvoeding en vorming gespeel het.

Die skool beskik oor dinamiese en ervare opvoeders wat oor die kundigheid beskik om waardegedrewe onderwys aan u kind te gee.  Die kind en sy/haar geluk word altyd eerste gestel

Ons spandeer baie tyd aan lees, wiskunde en klanke vanaf graad R omdat dit die kern van suksesvolle onderwys is.

Die skoolkurrikulum maak voorsiening vir elke leerder met sy besondere behoeftes op verskeie terreine.  Die klem word geplaas op deelname vir genot.

Elior Akademie neem deel aan die Karoo Eisteddfod, Wiskunde uitdaging, Mini-Krieket toernooi (seuns en meisies), atletiek en tennis.

ONS MISSIE

Elior Akademie doen deurentyd alles in sy vermoeë om ‘n klimaat en omgewing te skep waarin leerlinge onderrig volgens Christelike waardes en norme kan ontvang.

Die skool sal altyd poog om die bes opgeleide en toegewyde personeel en ook ander deskundiges te bekom om hierdie doelwit te bereik.

Die skool beywer hom, in samewerking met ander skole, persone, instansies, kerke en die regering in sy strewe na die verkryging van wetenskaplike toerusting, kundigheid, sosialisering en fondse tot die algehele vorming van sy leerlinge.

Die skool streef daarna om hoëvlak mannekrag te lewer, toegerus met die nodige kennis, denke, vaardighede en houdings om in die eise van die tyd en die land te voorsien.

Die skool wil ook toepaslik diensbaar wees in sy onmiddellike omgewing en streek, die breër gemeenskap en in die besonder, aan sy ondersteuners en geesgenote.

ONS UITDAGINGS

Ons beskik tans oor 5 onderwysers en 17 kinders tussen Gr R tot Gr 7.  Bekostigbare skoolfonds is dus ‘n uitdaging omdat dit nie alle uitgawes van die skool kan dek nie.  Daarom spandeer ouers baie tyd en moeite aan ekstra fondsinsamelings om die skool se inkomste aan te vul. 

Die Gemeenskapsfonds is ons grootste ondersteuner in die verband en daarom dat meeste ouers direk betrokke is by die Victoria-Wes Wildsfees.  Sonder die fondse wat met die Wildsfees ingesamel word, sal Elior se deure nie vir ons kinders kan oopbly nie!

Ons opregte dank aan alle ondersteuners van die KVB Gemeenskapsfonds Trust, Duiwe Fly-Inn en Wildsfees!

KONTAK ONS