HUIS FRIEDA KEMPEN

Die ACVV Victoria-Wes is bevoorreg om na bykans vyftig jaar steeds hulle oudste en grootste projek, Huis Frieda Kempen, tehuis vir ouer persone volhoubaar te bestuur.   Aan ons Hemelse Vader kom ons hoogste eer en lof toe wat oor byna vyftig jaar vrywilligers en personeel voorsien en toegerus het om by die tehuis se bestuur en bedryf betrokke te raak.

Ons glo die ACVV kom steeds haar verantwoordelikheid na teenoor die ouer persone van die gemeenskap wat van die dienste wil gebruik maak.

Huis Frieda Kempen

TEIKENGROEP/ INWONERS:

Die ACVV verskaf  dienste aan verswakte persone ouer as sestig jaar vanuit die totale gemeenskap ongeag hulle geslag of ekonomiese status solank hulle bereid is om die eenheidskoste te betaal of indien daar ‘n geskikte borg gevind kan word.   Die tehuis is geregistreer vir 28 ouer verswakte persone maar huidig is die onbenutte kamers die organisasie se groot uitdaging.   Die uitgebreide fasiliteite, nl. Ons Huis en die ACVV Woonstelle is juis ontwikkel om die tehuis meerdoelig te benut en ook dienste aan hierdie teikengroepe te voorsien as inkomstegenererende projekte.

Die tehuis het tans ruimte om 10 meer kamerbewoners en twee of drie  woonstelbewoners te akkomodeer. 

Daar word onverpoos gewerk om die beste moontlike sorg vir die inwoners te bied en hulle deur inskakeling by aktiwiteite te reaktiveer sodat agteruitgang beperk kan word.  Verwante speel n belangrike rol in inwoners se lewe dog sommige kinders maak nie genoeg kontak met hulle ouers nie.

FONDSINSAMELING:

In ‘n klein gemeenskap is dit moeilik om noemenswaardige fondse in te samel want daar is beperkte koopkrag en heelwat mededingers.

Die ACVV sal meer pogings moet aanpak maar daarvoor kan ‘n klein Gideonsbende nie alleen sorg nie en sal ons meer vrywilligers moet werf sodat daar hande gevat kan word.  Die ekonomie maak dit egter moeilik vir beide die skenkers en die kopers en kan daar ook nie te gereeld fondsinsmelings gehou word nie.  Gemeenskaplike fondsinsamelings soos ‘n wildsfees of duiwe “fly-in” is reeds en mag dalk in die toekoms van nog groter waarde wees.

DONASIES:

Die ACVV het die afgelope jare gereeld bydraes uit die Gemeenskapsfonds ontvang en ‘n eenmalige noemenswaardige erflating wat ongewoon is, is ook ontvang  Die erflating van een van die ACVV se lojale ondersteuners en gewese inwoner van HfK was van onskatbare waarde die afgelope twee jaar en het gehelp om die maandelikse verpigtinge aan veral voedsel en salarisse by te bring.  Sonder hierdie bemaking en ook die bydraes van die Gemeenskapstrust en die ACVV Tak sou dit bykans onmoontlik gewees het om die tehuis se bedryfsuitgawes te kon dek.    Die ACVV Tak moes gereeld uit hulle reserwefonds wat oor jare opgebou is die tehuis ondersteun en geld voorskiet.

Die NG Kerk, vrywilligers  in die gemeenskap en ondersteuning deur oud-VictoriaWesters het onskatbare waarde toegevoeg deur gereelde bydraes.

FINANSIËLE VOLHOUBAARHEID:

Hierdie aspek is die belangrikste van al die komponente, want as daar nie die nodige finansiële  voorsiening is nie, kan geeneen van die ander komponente suksesvol bedryf word nie.

Huis Frieda Kempen is afhanklik van hoofsaaklik vier bronne van inkomste, naamlik:

  • Losiesfooie/ Verkoop van dienste
  • Subsidie van die Staat
  • Fondsinsamelings
  • Donasies.

Samevattend is die ACVV van Victoria-Wes oortuig dat ten spyte van ‘n paar groot uitdagings daar steeds ‘n behoefte aan ‘n fasiliteit vir die versorging van verswakte ouer persone is en dat Huis Frieda Kempen wat oor vyf dekades die toets van die tyd deurstaan het onder die beskerming van ‘n organisasie wat vir meer as ‘n eeu (118 jaar) dienste lewer aan mense in nood, die reg het om voort te bestaan.  Dit sal alleen moontlik wees as die gemeenskap saamstaan, die Staat die regmatige ondersteuning gee en kinders besef dat hulle ‘n vrentwoordelikheid het tov hulle ouers se versorging .

Ons glo dat ons Hemelse Vader elke inwoner sal seën met Sy genade en liefde. Ons glo dat elke personeellid,  bestuurslid  en vrywilliger  toegerus sal word deur ‘n Hoër Hand om hierdie veeleisende taak met blymoedigheid voort te sit sodat die diens vir nog baie geslagte as ‘n veilige hawe vir ouer persone in Victoria-Wes kan voortbestaan.